My naam is Mignon.  Ek is ‘n Yorkshire terrier.  Ek kry opleiding by ‘n hondeskool waar ek allerhande snaakse goed moet leer.  Hoekom weet ek nie!  My mense-ma sê dit is vir dissipline.  Ek het mos nie dissipline nodig nie!

Hier leer hulle my om langs my mense-ma te loop, nie voor of agter nie, maar langs haar.  Dan skielik sê sy vir my, “Mignon, sit”en ek moet mooi reguit langs haar gaan sit.  Die ergste is as my ma vir my sê, “Mignon, lê” of “Mignon sta-a-an”.  Dit kry ek nog nie reg nie.  Sy sal een of ander slim plan moet uitdink om dit vir my aan te leer.

Dit is nie lekker vir my as sy sê, ”Mignon, sit, bly”. Dan druk sy haar hand voor my neus in en ek moet sit en bly sit.  Sy loop dan in sirkels al verder en verder van my af.  Natuurlik wil ek haar sien as sy agter om my beweeg en dan draai ek ook om.  Sy is glad nie beindruk met my nie.  Nou sit ek maar stil.  Wanneer sy voor my in beweeg, dan sê sy, “Mignon, sit, bly”, en beweeg weer weg.  Net voor dit te erg raak, sê sy “Mignon, kom”.  Ek hardloop dan vinnig na haar toe, maar dit is nog nie klaar nie.  Ek kry die volgende opdrag – “Mignon, sit voor” , ek moet dan voor haar gaan sit en bly sit.

Die lekkerste is as sy die “dumbbell” gooi en sê, “Mignon, bring!”.  Nou kan ek hardloop en dit vir haar bring.  Die enigste problem is dat ek eers voor haar moet sit en dan die “dumbbell” los.  Die “dumbbell” is so ‘n lekker speel-kou-ding en dan stap ek halfpad en speel met dit.  Ek is nie veronderstel om eers met dit te speel nie. 

Die aakligste is as ons leerders sosialiseer.  Jy hardloop sonder ‘n leiband rond en speel met die ander maats.  Ongelukkig wil almal aan my ruik, stoot my om, of sit bo-op my.  Nou dra my mense-ma my maar in haar arms rond.  Dit is salig!

Daarna kry my mense-ma ‘n les oor hoe om ons verder by die huis te leer.  Ek wil net huis toe gaan, maar sy luister nie as ek met haar praat en vertel wat ons moet doen nie.  Al wat sy doen is om na die afrigter te luister.  Arme ek!